Romeine 1
The Mirror Translation |
|
Voorwoord
Die vrygelate Arend
Terwyl Lydia en ek op wittebrood was in Januarie 1979 ontmoet ons ‘n Natuurbewaringsbeamte by Bourkes Luck Mpumalanga naby die Blydepoort Natuur reservaat. Sy vertel ons hoe hulle ‘n week van tevore betrokke was by die vrylating van ‘n Witkruisarend wat vir tien jaar in die Pretoria dieretuin op hok was.
Groot was hul teleurstelling toe hulle die houtkrat waarin die arend vervoer was oopmaak en ure later wou die arend steeds nie vlieg nie!
Dis een ding om die voël uit die hok te kry maar hoe kry mens die hok uit die kop?
Skielik kyk die arend op met helder oë, in die verte hoor hulle dit, die duidelike roep van ‘n ander Witkruisarend!
Sonder enige verdere aanmoediging of vlieglesse styg die vrygelate arend dadelik op en binne oomblike sirkelsweef die twee voëls saam.
Hierdie verhaal het ‘n diep indruk op my gemoed gelaat. Geen hok van enige grootte sou ooit definisie kon gee aan die skeppingsontwerp van ‘n arend nie.
Ek het opnuut besef dat in die lig van Paulus se openbaring van die evangelie is daar net een dringende prioriteit, om elke mens te laat weet dat die graf tweeduisend jaar gelede reeds oop is, die hek is oop vir elke mens om skotvry uit te stap in onskuld en in die oortuiging van sy ware identiteit. Jesus is God se vryarend roepstem wat in Sy ekklesialiggaam die kerk, die oorspronklike identiteit en integriteit van die onskuld van elke mens met durf en oortuiging aankondig en spieëlreflekteer. Daar is genoeg outoriteit in die roep van die vryarend om die herinnering van die verlede en die haglike hoklewe vir altyd vaarwel toe te roep! Die ou dinge is verby, kyk, alles het nuut geword! 2Kor.5:14-17.
Die Evangelie van Paulus
In sy brief aan die Romeine gee Paulus baie duidelike definisie aan die geldige implikasie van die evangelie.
Wanneer mens hierdie sleutelboek van die Bybel met insae bestudeer verstaan jy hoekom Paulus praat van sy evangelie teenoor die verskeie ander sogenaamde evangelies beskikbaar op die Christen mark.
Hy kanselleer enige illusie wat mens moontlik sou kon hê om nog iets te wil byvoeg of weg te laat van die eenvoud van hierdie omvattende openbaring. Net soos die hele mensdom in Adam se sonde aangespreek was, word dieselfde globale mensdom nou betrek in ‘n gebeure van veel groter implikasie, die enkele daad van geregtigheid van die een mens, Jesus Christus. Paulus is oortuig dat watookal met die mensdom gebeur het deur die een misdaad van Adam, buite alle verhouding oortref word deur die openbaring van die mens se insluiting in die sterwe en opstanding van Jesus Christus. Rom.5:14-21.
Hy plaas die val van Adam en elke daad van ongeregtigheid wat volg, teenoor die enkele daad wat God in Jesus Christus se gehoorsaamheid voltrek as die finale vereffening van die skuld van die mens. “Hy is oorgelewer as gevolg van (Grieks, dia) die oortredinge van die mens, Hy is opgewek as gevolg van, (dia) die mens se vryspraak.” Rom.4:25. Sy liggaam aan die kruis is die skuldbrief van elke mens, Sy liggaam uit die graf is die kwitansie van dieselfde mens.
Enige lering wat die klem nog steeds laat val op die bydra van die individu volgens wettiese voorskrifte en vereistes om sy gedrag daardeur te probeer beïnvloed, beperk die mens weereens tot die uitgeputte dissipline van persoonlike wilskrag; dit verleng die maalkolk ervaring van skuldgevoel, veroordeling en teleurstelling en ignoreer die dimensie van geloofsrealiteite wat vir elkeen beskikbaar is deur geloof in die die volmaakte verlossingswerk van God in Christus. “Selfs ‘n klein bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur,” sê Paulus in Gal.5:9 met verwysing na hoe die geringste bydra van die vlees die beginsel van geloof kanselleer.
Die openbaring van geregtigheid deur die geloof bewys hoe God daarin slaag om die mens te herstel tot absolute onskuld en die besef van sy oorspronklike identiteit as beelddraer van God.
Die wese van die Griekse woord vir geregtigheid, dikaiosunei of dan dikei, impliseer die gedagte van twee partye wat gemeenskaplike waarde in mekaar het, sonder enige verwysing na afstand, agterdog of veroordeling.
In sy skrywe aan die Galasiërs sê Paulus dat hy doelbewus geen poging aangewend het om met enige van die dissipels van Jesus te konsulteer nie. Gal.1:11,12,15-17.
Mens sou dink dat Paulus miskien hier ‘n gulde geleentheid gemis het; hy kon eerstehands by die ooggetuies inligting aangaande Jesus inwin.
Paulus is egter so oorweldig deur sy ervaring met God op die Damaskuspad, dat selfs die waarde wat hy voorheen geplaas het op die manier waarop hy homself volgens die vlees geken het, onder andere die belangrikheid van sy verbintenis met die bloedlyn van Benjamin, nou totaal oortref word deur die openbaring van Christus in Hom. “God het my losgemaak van my moederskoot, (my natuurlike identiteit) en Sy seun in my geopenbaar.” Gal.1:15. Hy besef onmiddelik die enorme implikasie van die enkele koringkorrel wat in die grond geval en gesterf het; die koringkorrel het nie alleen gebly nie maar het veel vrug gelewer. Joh.12:23,24.
Die opstandingsopenbaring bewys dat die Christuslewe nou vermenigvuldig is in die volgende persoon wat tot geloofsoortuiging kom. Die mens is weer die draer van die heerlikheid van God.
“Een het vir almal gesterf, daarom het almal gesterf; van nou af daarom ken ek geen mens meer volgens die vlees nie, al het ons selfs Christus voorheen volgens die vlees geken, ons ken Hom nie meer so nie.” 2 Kor.5:14-17. Die manier waarop ons Jesus ken is die manier waarop ons nou elke mens ken. Die mens is in Christus ingesluit deur God se toedoen. (1 Kor.1:30) Die ou manier van mense ken is verby, kyk, alles aangaande die mens het nuut geword. Nou is daar nie meer Jood of Griek nie, slaaf of vryman, Afrikaan of Chinees, Europieër of Amerikaner nie, nie eers manlik of vroulik nie, geen definisie van onderskeid kwalifiseer een meer bo die ander nie! Gal.3:28.
Niks kan die mens meer dinamies onderskei as die ontdek van sy oorspronklike ontwerp nie, bewaar, geopenbaar en weer herstel in Jesus Christus. In Christus word die beeld en gelykenis van die onsigbare Skeppergod weer vertoon in ‘n menseliggaam. “Dit is in Hom waar God volledige uitdrukking vind van Homself; die volheid van die godheid vertoon in ’n menseliggaam; en dit is in Hom wat ons ons eie volmaaktheid besef.” Hy is ons geloofsverwysing, nie as voorbeeld vir ons nie maar juis as voorbeeld van ons. Kol.1:15. Kol.2:9,10.
“Hy is nie ver van elkeen van ons nie” is Paulus se advies aan die filosowe in Athene. “In Hom leef en beweeg en is ons; ons is inderdaad die godsoort; deur Hom verwek.” Hand.17:27,28.
Die spieëlbeeld openbaring van Christus in ons bring dinamiese transformasie. Die dae van vertoonvenster en duimvashougodsdiens is verby; die spieël openbaar die waarheid aangaande ons, dit is die waarheid wat ons waarlik vry maak.
2 Kor.3:18.
Nie in een van sy briewe verwys Paulus na ‘n enkele gelykenis of wonderwerk van Jesus nie; sy boodskap en mandaat is nie in die eerste plek om maar net nog ‘n historiese weergawe van Jesus aan te bied nie; Paulus besef dat die lewe, sterwe en opstanding van Jesus uit die dood soveel meer beteken as bloot geskiedenis gebeure, die verborgenheid van alle tye is die openbaring van die herstelde Christuslewe in die mens! Kol.1:26,27. (Ongelukkig sê verskeie vertalings, Christus onder die mense, terwyl die Grieks spesifiek sê, in die mens.)
Hierdie geheimenis was vir geslagte lank profeties oor gepraat terwyl geeneen van die wêreldheersers besef het waaroor dit gaan nie, “anders sou hulle Hom nooit gekruisig het nie.” 1 Kor.1:6,7,8. God het juis van altyd af onderneem om die verlore heerlikheid van die mens te herstel. (:7)
Die geskiedenis teken die dood en opstanding aan van ‘n enkele persoon; in geesdimensie word die ganse mensdom terselfdertyd ingesluit in dieselfde dood en opstandingsoomblik. “Terwyl ons nog dood was in ons misdade het Hy ons saam met Hom lewend gemaak...” Ef.2:5,6. Nog voordat ons geweet het daarvan of selfs daarin kon glo het iets reeds namens ons gebeur. As die vyand werklik besef het wat in daardie oomblik met die mens asook met sy houvas oor die mens gebeur het, sou hy Jesus nooit gekruisig het nie! Kol.2:14,15.
In ons onkunde het ons die duiwel krediet gegee vir wat hom nog nooit toegekom het nie. Hy verlustig hom in die mens se onkunde en ongeloof want dit bemagtig hom weer nadat hy reeds deur die kruisdood en opstanding van Jesus verslaan was. 2 Kor.4:4.
Die enigste skrif in die Ou Testament wat verwys na die derdedag opstanding sluit ons in. “Na twee dae sal Hy ons lewend maak, op die derde dag sal Hy ons opwek.” Hosea 6:1, 2. Dit is juis hierdie skrif wat Paulus oortuig het daarvan dat ons saam met Jesus gesterf het en saam met Hom lewend gemaak is.
Op wie se terme kwalifiseer die gevalle mens om ingesluit te wees in Christus? Wat moet die mens nog doen om homself aan te beveel voor God?
Paulus sien dit so duidelik, “dit alles is uit God, wat ons met Homself versoen het.” 2 Kor.5:18. Ook in 1 Kor.1:30 beklemtoon Paulus dit dat ons in Christus is deur God se toedoen. Terwyl die mens nog onverskillig en selfs vyandig teenoor God gestaan het, terwyl ons nog sondaars was, het God ons reeds met Homself versoen! Paulus sê nie, “word met God versoen” nie, hy sê, “wees met God versoen!” Die Bybel sê ook nie, “word heilig” nie, maar “wees heilig;” ook nie, “word volmaak” nie, maar “wees volmaak.”
Die openbaring van die Nuwe Testament gaan alles oor die groot ontdek van dit wat reeds tweeduisend jaar gelede plaasgevind het! “Moenie sê, oor vier maande kom die oes nie, hef op julle oë en sien vir julleself dat die oes reeds volledig ryp is!” Joh.4:35.
“Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom weer opbou!” Joh.2:19. “Op die dag toe die tempel gebou is, was daar geen geluid van ‘n hammer of ‘n kapbytel of enige ystervoorwerp nie; al die klippe was reeds kant en klaar nommerpas in die steengroef voorberei.” 2 Konings 6:7.
Die mens is reeds verlos, genees en vry verklaar, hy moet dit net ontdek, iemand moet dit net vir hom sê sodat hy dit met oortuiging kan glo. Hand.8:30.
“Omdat ons dan saam met Christus opgestaan het uit die dood, behoort ons nou vanuit ‘n hoër orde te dink; ons is nie meer beperk tot die aardse orde van die sintuiglike sielsdimensie nie.
Die troonkamer is nou ons verwysing en vertrekpunt, nie die tydelike sfeer van aardse realiteite en teësprake nie. Kol.3:2,3.
Die getuienis van Jesus Christus is die bevestiging van die waarheid, nie die getrouheid of ontrouheid van die mens nie. Die ervaring van die mens is nie die maatstaf nie. 2Kor.13:5,8, Rom.3:3,4, 1 Kor.1:6.
Die grootte of erns van die probleem motifeer nie die gebed nie; die oortuiging van ‘n waterdigte oplossing inspireer elke geloofsuitspraak in gebed of lied.
Nadat Paulus hom doelbewus vir drie jaar isoleer van menslike opinies oor Christus, kuier hy vir twee weke in Jerusalem by net twee van die ‘main’ manne, Kefas en Jakobus die broer van Jesus. Wat sou die drie in gemeen hê?
Al drie deel ‘n besondere openbaring daarin dat hulle Jesus nie meer volgens die vlees ken nie; Kefas, (Aramees vir rots) oftewel Petrus, (Grieks vir rots) ontdek sy eie ware identiteit toe hy die openbaring ontvang dat wat Jesus aan betref is die seun van die mens die seun van God; toe hy Jesus se ware identiteit ontdek toe ontdek hy die waarheid oor sy eie oorsprong, nie die lendene van sy aardse vader, Jona nie, maar sy genesis in God; die mens begin in God; God is die Vader van die mens. Gn.1:26,27; Dt.32:18, Mt.16:13-19, Js.51:1.
Op hierdie fundamentele rotsopenbaring dat Jesus gekom het om die ware identiteit van die mens weer te vertoon, die beeld en gelykenis van God in vlees, sal God Sy ekklesiakerk bou, en die hekke van geestelike blindheid sal nie daateen standhou nie. (Grieks, hades, is ‘n saamgestelde woord, ha + ideis, ha is negatief en ideis om te sien , dus om nie te sien nie.)
Die ekklesia is God se antwoord op die mens se verlore identiteit. Hierdie woord wat as ‘kerk’ vertaal word verwys nie na ‘n gebou of menslike instansie of organisasie nie, maar na die oorspronklike goddelike identiteit van die mens, herstel en weer geopenbaar in ‘n menseliggaam in Jesus Christus soos in ‘n spieël. Nou kan ons almal met onbedekte gesig die heerlikheid van die Here aanskou soos in ‘n spieël en verander word na Sy beeld waar ons die verganklike heerlikheid van die vlees verruil vir Sy onverganklike heerlikheid. 2 Kor.3:18.
Die Griekse voorsetsel, ek, verwys altyd na oorsprong of bron, sien 1 Kor.1:30 en Heb.2:11. Die woord klesia (van kaleo) beteken om by ‘n naam genoem of geroep te word; dit wil sê om deur ‘n naam geidentifiseer te word. Die hoofdoel van die kerk is dan om die verlenging te wees van die bediening van Jesus, om die oorspronklike Christusidentiteit van elke mens weer te verkondig.
Petrus sien die opstanding van Jesus uit die dood as verteenwoordigend van die nuwe geboorte van die mens. 1 Pet.1:3.
Waar pas Jakobus die broer van Jesus in die prentjie in? Wat het intussen met hom gebeur? Op ‘n stadium het hy en die res van Jesus se bloedfamilie onverskillig eenkant gestaan en nie werklik in Hom geglo nie. Joh. 7:5. Eers na Jesus se opstanding uit die dood, toe Hy Homself aan Jakobus openbaar, ontdek Jakobus dat God die ware oorsprong van die mens is. 1 Kor.15:7, Jak.1:18. “God het ons voortgebring deur die woord van die waarheid; as iemand die woord hoor, sien hy die gesig van sy geboorte soos in ‘n spieël.”
Ook Paulus bely dat dit wat vir hom wins was, onder andere sy verbintenis met sy oeroupa, Benjamin, nou geheel en al oortref word deur die openbaring van die seun van God in hom. Hy sê, “God het my losgemaak van my moederskoot en Sy seun in my openbaar sodat ek Hom in die nasies kan bekend maak.”
Paulus is oortuig dat toe Jesus sterf het almal gesterf. 2 Kor.5:14,16. In Handelinge 13 preek Paulus oor die opstanding van Jesus en kwoteer Psalm 2, “Vandag het ek jou gegenereer.” Hand.13:30-33. Die opstanding spieël die nuwe geboorte van die mens. “Terwyl ons nog dood was in ons sonde het Hy ons reeds saam met Hom lewend gemaak. Net soos almal in Adam se sonde gesterf het, is almal lewend gemaak in Christus se opstanding. 1 Kor.15:22. Wanneer het die mensdom gesterf? In Paulus se logika het dit gebeur in Jesus se dood; Jesus verteenwoordig elke mens. Geloofsoortuiging is nie die besef van hoe skuldig en verlore die mens is nie, dit is juis die oortuiging van hoe verlos, genees en onskuldig die mens is op grond van die gehoorsaamheid van een mens. Godsdiensdenke wat steeds vashou aan ‘n veroordelingsboodskap sien meer meriete in Adam se val as in Christus se opstanding. Rom.5:18,19.
Jesus het nie gekom om die Christengodsdiens te begin nie; Hy het die ware oorsprong, identiteit en onskuld van die mensdom kom verlos en openbaar.
Toe die evangelie vir die eerste keer aan die Grieke verkondig word deur ‘n paar evangeliste uit Afrika (Cirene) en Ciprus, het die kerkleiers in Jerusalem Barnabas gestuur om die gerugte hiervan op te volg. In plaas daarvan dat Barnabas terug rapporteer aan Jerusalem, sien hy ‘n groot geleentheid vir Paulus se boodskap; dit sou Paulus se eerste groot publieke geleentheid wees. Barnabas het Paulus se openbaring van Christus in die mens verstaan. Dit is dan ook nie ‘n verassing dat mense vir die eerste keer Christene genoem word onder hul bediening nie. Hand.11:26.
“Vandag het ek jou verwek, vra vir my die nasies en gee aan jou die eindes van die aarde as jou besitting.” Ps.2:7,8.
Die resultaat van die kruisboodskap beteken dat die eindes van die aarde hul vergete identiteit weer sal herontdek en hul tot die Here bekeer. Deut.32:18, Ps.22:27.
“Ek verkondig Jesus Christus volgens die openbaring van die geheimenis wat vir geslagte lank in stilswye en mistiek gehul was, maar vandag oop en bloot verkondig word as die vervulling van die profetiese skadubeeld. (Waarlik, Hy was verwond as gevolg van ons oortredinge, Sy vlees was stukkend geskeur as gevolg van ons sondes. Die sweepslae wat Hom toegedien is was ons straf; Hy het gely sodat ons vry kan uitgaan; ons krankhede, die het Hy op Homself geneem, deur Sy gebroke liggaam is ons genees.” Js.53:4,5.) En nou het die God van alle tye en tydperke Sy mandaat aan ons toevertrou om hierdie verborgenheid aan alle nasies sodanig bekend te maak dat geloofsoortuiging ‘n splinternuwe lewensgehalte in elkeen wakkermaak.” Rm16:25,26
“Die uitslag is duidelik: een misdaad was genoeg om die hele mensdom in veroordeling te dompel; een daad van geregtigheid verklaar dieselfde mense geregverdig; die ongehoorsaamheid van die een mens Adam, verteenwoordig die skuld van alle mense; die gehoorsaamheid van ‘n ander mens Jesus, vertoon dieselfde mense se onskuld. Rom.5:18,19.
Die beginsel van geloof is om saam met God te stem; dit wil sê om in Jesus se kruisdood en triomfsopstanding presies te sien wat God daarin sien. Dan verstaan mens hoe God dinge kan roep wat nie blyk te wees nie asof dit reeds was. Rom.4:17. Geloof is vir die gees wat die sintuie vir die liggaam is. “Terwyl ons let, nie op dinge wat die blote oog sien nie, maar eerder op dit wat geloof sien, die goeienuus lig die sluier van ons verstand sodat ons almal die heerlikheid van die Here, die beeld van God in onsself herken soos in ‘n spieël.
2 Kor.3:18, 2 Kor.4:18.
Hier is die agtergrond tot ons verlossing:
Heb 2:8 “God se doel met die mens as Sy beelddraer was nog altyd dat die mens dinamies op aarde sal leef; Hy het alle dinge sonder uitsondering aan die mens onderwerp; nogtans blyk dit glad nie so te wees nie.
2:9 (Maar nou gryp God in; Heb.1:1-3) in die klimaks van Sy gesprek met die mens.
So kom ons kyk met nuwe oë na Jesus: in Sy dood daal Hy neer tot ver benede die laagste rangorde selfs as die van engele; vir ‘n oomblik smaak Hy die dood en verleentheid van die totale mensras en so vervul Hy die genade van God oor die mensdom om in Sy opstanding uit die dood as mens gekroon te word in heerlikheid en in die hoogste lof.
2:10 Nou troon Hy uit bo als; alles wat is vind uitsluitlike bestaansreg in Hom. Hy is beide die oorsprong en finale voleinding van alle dinge. In die goeienuus openbaring van hierdie volmaakte verlossing roep God die mens soos met ‘n dringende hofbevel om terug te keer as seuns van Sy heerlikheid. Die graad van Sy lyding meet die volmaaktheid van ons verlossing; Hyself is die gesag wat ons bevryding bekragtig.
2:11 Daarom is God nie verleë oor die mens nie! Want beide Hy wie die verlossingsdaad uitvoer sowel as hulle wie daardeur geraak word, deel in dieselfde oorsprong; Hy stel elkeen voor as deel van Sy gesin. (Hy is nie skaam om ons Sy broers te noem nie.)
Teoloë bespiegel al jare oor wie die boek van Hebreërs geskryf het, Paulus hoef nie sy naam onderaan te teken nie, want sy boodskap leef daarin.
Kyk na sy skrywe aan Efesieërs byvoorbeeld:
Efes.4:8 Die profetiese skrifte bevestig dat Hy ons as Sy trofee in Sy triomftog tot die hoogste orde van menswees herstel het; Hy het Sy gawe in die mens, (Sy beeld en gelykenis) weer in besit geneem. Sien Ef.2:6, Ps.68:18. (Die Hebreeuse teks wat Paulus hier aanhaal, sê in Psalm 68:18, lakachta mattanoth baadam, thou hast taken gifts in man, in Adam. The gifts which Jesus Christ distributes to man he has received in man, in and by virtue of His incarnation. Kommentaar van Adam Clarke.)
Ef.4:9 Sy triomfantlike opgang bevestig dat Hy geslaag het in Sy missie toe Hy neergedaal het tot die laagste vlak van die ellende waarin die mensdom gedompel was (deur Adam se val. Hy het neergedaal tot op subzero vlak en die mens weer verhef tot die hoogste orde van lewe.)
Ef.4:10 Sy reputasie strek oor alle grense heen; (die Lam en die Leeu is dieselfde Persoon!) Hy gee betekenis en finaliteit aan alles wat is. (In Sy dood smaak Hy ons uiterste vernedering, in Sy opstanding deel ons in Sy hoogste eer.)
Romeine
Hoofstuk 1
1:1 Paulus, passievol oor Jesus, Hy is my identiteit; my lewe verteenwoordig Hom. My boodskap gaan uitsluitlik daaroor om die goedheid van God te beklemtoon.
1:2 Dit is immers die tema van die Bybel; die goeienuus bly die sentrale profetiese fokus van geïnspireerde skrywe.
1:3 Die hoofrolspeler van die verlossingsdrama is die seun van God wie se natuurlike herkoms uit Dawid is.
1:4 Sy kragtige opstanding uit die dood deur die Heilige Gees, bevestig egter Sy seunskap en oorsprong uit God.
1:5 Sy Naam identifiseer alle nasies, nou is dit my voorreg om as ambassadeur van Sy guns, Sy boodskap van genade so te verteenwoordig dat dit ‘n lewenswyse van spontane geloof inspireer.
1:6 Jesus Christus gee definisie aan die oorspronklike ontwerp van die mens.
1:7 Ek rig hierdie skrywe aan die gelowiges in Rome, in die oortuiging van God se liefde vir julle. Hy het in Sy Seun bewys dat die mens Sy eiendom is. Die algehele welstand van die mens word verteenwoordig in die feit dat God die mens ingesluit het in Christus in Sy welbehae. Hy is net soveel Vader van die mens as wat Hy Vader van Jesus Christus is. Hy is ons God.
1:8 My grootste vreugde is die besef dat julle geloof globale implikasies inhou vir die totale mensdom. Julle geloof word verteenwoordig op elke agenda.
1:9 My totale geestelike loopbaan word gekenmerk deur die verkondiging van die feit dat God die Vader van die mens is. God weet, die goeienuus van ons seunskap inspireer aanhoudend elke gebed wat ek namens julle bid.
1:10 In my gebede is ek reeds verbind aan julle, maar my uiteindelike begeerte is om julle in persoon te besoek.
1:11 Ek verlang rêrig om julle te sien en weet dat die gawe waarmee God my geestelik geseën het julle baie sal baat en versterk.
1:12 Deur Sy gawe in mekaar te geniet en te ontdek dat ons dieselfde oorsprong in Hom deel word ons ook wedersyds in mekaar se geloof bemoedig.
1:13 Tot op hierdie stadium was dit nie vir my moontlilk om by julle uit te kom nie; hoewel ek dikwels soos ‘n boer voel wat uitsien na sy oes; net soos dit my verwagting is dat hierdie evangelie globale vrug sal lewer in alle nasies.
1:14 Ek voel verplig teenoor elkeen; hetsy die Grieke sowel as die baie vreemde nasies wie se taal soos babbelklanke kilink; of ek nou hul taal magtig is of nie, hierdie boodskap sluit almal in; beide die kundige Grieke sowel as die ongeletterde massa deel in presies dieselfde guns.
1:15 Dit is dan ook my dringende begeerte om met alles wat in my is hierdie goeienuus in Rome aan te kondig.
1:16 Ek is glad nie verleë oor die goeie nuus van Christus nie want hierdie boodskap ontsluit die verlossingskrag van God in elkeen wat tot geloofsoortuiging kom, Jode sowel as Grieke.
1:17 Geloof is nie ‘n kans wat mens vat nie, die evangelie openbaar hoe God daarin geslaag het om die mens te regverdig; hierin lê die meriete van ons geloof, dit waarvan God oortuig is aangaande ons, oortuig ons. (Van geloof tot geloof) Die profete het geskryf oor hierdie geregtigheid, wat uit geloof sou voortkom en nie uit wilskrag nie. Hab.2:4. (‘n Splinternuwe era word onthul, die stand van die mens voor sy Skepper word nie meer beïnvloed deur persoonlike verdienste nie maar deur die verdienste van Christus.)