<< EFESIERS 1 >>
The Mirror Translation | |
Vertrekpunt: God het Homself met die mens versoen en Hom met die mens verbind, vir altyd.
1:1 My naam is Paulus, ek verteenwoordig Jesus Christus; my bediening is gedrewe deur God se begeerte. Ek rig hierdie skrywe aan die geheiligdes in Efese asook aan alle gelowiges in Christus Jesus.
1:2 Ek groet julle met die guns en vriendskap van God as die Vader van die mens en Jesus Christus ons Leier.
1:3 Ons vier die welbehae van God, Hy is die Vader van ons Meester, Jesus Christus. Die feit dat ons in Christus ingesluit is kwalifiseer ons toegang en deelname in elke geestelike seëning in die hemelse dimensie.
1:4 Ons verbintenis in Christus assosieer ons reeds van voor die val met die liefdesdroom van God om die mens vir altyd onberispelik voor Hom te stel in intieme onskuld. (Die voorreg om in Hom geassosieer te wees beteken dat als wat met Christus sou gebeur, die mens onmiddelik insluit.)
1:5 Konsekwent met die bloudruk van ons ontwerp realiseer God die herstel van die mens tot die status van seunskap deur die verdienste van Jesus Christus. Ons is met Hom versoen; dit was immers nog altyd die voorneme van Sy begeerte.
1:6 Ons verbly ons in uitbundige vreugde in Sy welbehae; Sy liefde vir Sy seun is Sy liefde vir ons; Hy oorweldig ons met dieselfde guns.
1:7 Deur Sy bloed bevestig Hy Sy oorspronklike eiendomsreg oor die mens. Ons kwytskelding bewys die meetlose genade van God. Die bloedprys wys die waarde wat God op ons onskuld plaas.
1:8 In Sy grenslose guns teenoor ons ontdek ons dat die verlossing van die mens nie toevallig is nie; God het in Sy wysheid als fyn beplan en so uitgedink. Hy het ons gewens.
1:9 Sy begeerte is nie meer 'n geheim nie; dit wat Hy van altyd af in Homself onderneem en gekoester het is nou aan ons bekend.
1:10 In Hom vind elke seisoen in tyd sin en volledige definisie; Christus gee bestaansreg aan als wat is in die hemel asook op die aarde; alles in die univers verenig en kulmineer in Hom. Hy is die slotsom van die geskiedenis.
1:11 Dit is hoe ons in God se prentjie pas, Christus gee dimensie aan ons erfdeel, ons is in Hom ingesluit; in die mens vind God weer gestalte, soos Hy ons in Christus as bloudruk gekoester het. Alles wat Hy vermag gee uitdrukking aan die skeppende energie en intensie van Sy vermoë en passie.
1:12 Dit was ons voorreg as Jode om van die begin af met geloofsverwagting na die Messias uit te sien; die verwagting was dat die mens weer die trofee sou wees van God se heerlikheid.
1:13 En nou, in die ontsluiering van die logika van God, (die oorspronklike gedagte, Joh.1:1) ontdek die nasies hul gelykwaardige insluiting in Hom. Fantastiese nuus! Die publieke aankondiging van die verlossing van die mensdom in Hom word nou in julle geloof bevestig en verseël deur die Heilige Gees.
1:14 Hy gee titelakte as waarborg tot eiendomsreg van alles wat verlossing beloof. Die triomf van Sy oorspronklike opinie word weer gevier.
1:15 Julle sal verstaan hoe opgewonde ek is oor die tyding van julle geloof in Jesus Christus en passievolle liefde vir al die ander heidense nasies wie hul onskuld en insluiting in Hom besef.
1:16 Ek is so bly vir julle en hou julle aanmekaar vas in my gedagtes en gebede.
1:17 Ek bid dat julle die Vader ken as die bron van die bloudruk plan; Hy is die God van Jesus Christus ons Leier. Hy gee aan julle die vermoë om Hom intiem te ken deur die gees van wysheid en openbaring. (Dit beteken soveel meer as blote akedemiese of filosofiese waarneming.)
1:18 Ek begeer dat julle die lig baie duidelik sal sien op die diepste vlak van julle denke en oortuiging om ten volle te begryp hoe Hy julle in Hom identifiseer en hoe kosbaar elkeen vir Hom is. Dit gaan vir God oor ons; ons herstelde onskuld is vir Hom die rykdom van Sy bates en erfdeel. (God meet Sy rykdom aan wat Hy in ons het!)
1:19 Nou bid ek dat julle sal besef hoe geloof die onmeetbare grootheid van die werking van Sy krag in ons aktiveer;
1:20 dit is presies dieselfde dinamiese vermoë waarmee God Jesus uit die greep van die doderyk uit lewend gemaak het en tot heerskappy verhef het in die outoritiet van Sy regterhand in die hemelse dimensie. (Die sfeer van geestelike realiteite.)
1:21 Sy posisie van mag is onbedreigd verhewe bo al die gekombineerde gesagsordes van elke koninkryk, heerskappy of regeringstelsel; Hy beklee 'n rang van uisonderlike superioriteit, geen ander naam of reputasie sou ooit met Hom kon meeding nie.
1:22 Sy posissie van absolute outoriteit beteken voorts dat elke gesagsvorm aan Hom onderworpe is, als is onder Sy voete; die outoriteitsliggaam is die kerk waarvan Hyself die hoof is.
1:23 Die ekklesia, (Sy beeld en gelykenis in die mens) is die sigbare, tasbare liggaam van God op aarde. Die volheid van Sy wese wat alles in almal tot vervulling bring, leef in ons! (God kan Homself nie meer volledig en akkuraat vertoon nie.)